Die Boodskap

2 Samuel 5:8-19 Die Boodskap (DB)

8. Dawid het daardie dag nog gesê: “Iemand wat die Jebusiete wil wen, moet hulle deur die watertonnel bykom.” Dawid het die woorde oor “dié wat kruppel en blind is” verpes. Dis waarom die mense later ’n spreekwoord daarvan gemaak het wat sê: “Iemand of iets wat blind of kruppel is, moet uit die tempel uitbly.”

9. Dawid het in die veilige plek met die muur om gaan woon. Hy het dit die Stad van Dawid genoem. Hy het daar rondom laat bou, van die keerwal af binnetoe.

10. Dawid het sterker en sterker geword, want die magtige Here het hom gehelp.

11. Hiram, die koning van Tirus, het belangrike mense gestuur om met Dawid ’n ooreenkoms te maak. Hy het daarna vir hom sederhout gestuur en mense wat met hout kan werk en met klip kan bou. Hulle het vir Dawid ’n paleis gebou.

12. Dawid het besef dat die Here hom koning gemaak het oor Israel en dat sy koninkryk belangrik geword het omdat die Here vir sy volk Israel omgee.

13. Nadat Dawid van Hebron af getrek het, het hy in Jerusalem met nog vroue getrou en ook nog meer haremvroue gekry. Hy het toe nog meer seuns en dogters gehad.

14. Die name van sy seuns wat in Jerusalem gebore is, was Sima, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

17. Die Filistyne het gehoor dat Dawid koning geword het van Israel. Hulle het toe met al hulle soldate gekom om hom in die hande te kry. Maar Dawid het gehoor wat hulle plan was en hy het in die veilige plek in Jerusalem gebly.

18. Die Filistyne het hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan.

19. Dawid het toe vir die Here gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg, en sal U my help om hulle te wen?”Die Here se antwoord was: “Ja, gaan veg teen hulle. Ek sal vir seker sorg dat jy hulle wen.”