Die Boodskap

2 Samuel 5:10-24 Die Boodskap (DB)

10. Dawid het sterker en sterker geword, want die magtige Here het hom gehelp.

11. Hiram, die koning van Tirus, het belangrike mense gestuur om met Dawid ’n ooreenkoms te maak. Hy het daarna vir hom sederhout gestuur en mense wat met hout kan werk en met klip kan bou. Hulle het vir Dawid ’n paleis gebou.

12. Dawid het besef dat die Here hom koning gemaak het oor Israel en dat sy koninkryk belangrik geword het omdat die Here vir sy volk Israel omgee.

13. Nadat Dawid van Hebron af getrek het, het hy in Jerusalem met nog vroue getrou en ook nog meer haremvroue gekry. Hy het toe nog meer seuns en dogters gehad.

14. Die name van sy seuns wat in Jerusalem gebore is, was Sima, Sobab, Natan, Salomo,

15. Jibgar, Elisua, Nefeg, Jafia,

16. Elisama, Eljada en Elifelet.

17. Die Filistyne het gehoor dat Dawid koning geword het van Israel. Hulle het toe met al hulle soldate gekom om hom in die hande te kry. Maar Dawid het gehoor wat hulle plan was en hy het in die veilige plek in Jerusalem gebly.

18. Die Filistyne het hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan.

19. Dawid het toe vir die Here gevra: “Moet ek teen die Filistyne gaan veg, en sal U my help om hulle te wen?”Die Here se antwoord was: “Ja, gaan veg teen hulle. Ek sal vir seker sorg dat jy hulle wen.”

20. Dawid het toe na Baäl-Perasim gegaan en die Filistyne daar gewen. Hy het gesê: “Die Here het deur my vyande gebreek soos water deur ’n damwal breek.” Daarom het hy die plek Baäl-Perasim, “die Baas van die deurbrekers”, genoem.

21. Die Filistyne het hulle afgodsbeelde net daar laat lê, en Dawid en sy manne het dit vir hulle gevat.

22. Die Filistyne het daarna nog ’n keer probeer en weer hulle kamp in die Spooklaagte opgeslaan.

23. Dawid het weer vir die Here gevra wat hy moet doen.Die Here het vir hom gesê: “Moenie hulle van voor af aanval nie. Gaan óm hulle en val hulle daar by die melkbosse van agter af aan.

24. As jy ’n geluid in die boomtoppe hoor wat soos voetstappe klink, moet jy vinnig aanval, want dan is Ek, die Here, voor jou om die soldate van die Filistyne te verslaan.”