Die Boodskap

2 Samuel 3:16-23 Die Boodskap (DB)

16. Haar man wou haar nie laat gaan nie. Hy het al huilende agter haar aangeloop tot by Bagurim. Toe Abner vir hom sê: “Gaan terug!” het hy maar omgedraai.

17. Abner het intussen met die leiers van Israel gepraat en vir hulle gesê: “Dis mos nou al ’n hele ruk wat julle graag wil hê Dawid moet julle koning wees.

18. Dis nóú julle kans! Onthou, die Here het gesê Hy gaan Dawid gebruik om sy volk, die Israeliete, vry te maak van die Filistyne en van al hulle ander vyande.”

19. Abner het ook self met die mense van die Benjaminstam gaan praat. Daarna het hy Hebron toe gegaan om self vir Dawid te sê dat die Israeliete en al die mense van die Benjaminstam tevrede was met die reëling.

20. Abner het in Hebron by Dawid aangekom met twintig manne saam met hom. Dawid het vir hom en sy manne ’n groot ete reggemaak.

21. By die ete sê Abner vir Dawid: “U Majesteit, ek gaan die leiers van al die Israeliete hier na u toe bring sodat hulle met u ’n ooreenkoms kan maak. Dan kan u wens waar word en kan u koning wees oor die hele land.”Na die tyd het Dawid vir Abner laat gaan. Hulle is as goeie vriende uitmekaar.

22. Net nadat Abner so sonder dat iets aan hom gedoen is, weg is uit Hebron, het Joab saam met Dawid se soldate daar aangekom. Hulle was weer op ’n strooptog en het sommer baie goed by hulle gehad.

23. Toe hulle daar aankom, vertel die mense vir Joab dat Abner, Ner se seun, by die koning was en dat die koning hom laat gaan het sonder om iets aan hom te doen.