Die Boodskap

2 Samuel 19:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die mense het vir Joab gaan vertel die koning huil en is hartseer oor Absalom.

2. Toe die soldate hoor dat die koning se hart gebreek is oor sy seun, het die dag waarop hulle gewen het, vir almal ’n treurige dag geword.

3. Hulle het daardie dag soos diewe die stad ingesluip. Hulle het gelyk soos mense wat skaam is oor hulle vir hulle vyande gevlug het.

4. Die koning het die hele tyd sy gesig toegehou en kliphard gekla: “My seun, my Absalom, my Absalom, my seun, my seun.”

5. Joab het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “U stel vandag almal teleur wat so getrou by u staan, die manne wat u lewe gered het en u seuns en dogters s’n en al u vroue s’n.

6. U is mos nou aan die kant van dié wat teen u is, en u is teen dié wat aan u kant is. U wys nou u gee nie ’n flenter om vir die offisiere en manskappe nie. Dit lyk vir my u sou daarvan gehou het as Absalom vandag nog geleef het en ons almal dood was!

7. “Gaan nou dadelik uit en gaan praat mooi met die manne, want ek sweer nou voor die Here, as u nié uitgaan nie, sal daar vannag nie een man by u oorbly nie! En dít sal die grootste moeilikheid wees wat u nog ooit in u lewe gehad het.”

8. Die koning het opgestaan en by die ingang van die stad gaan sit. Toe die manskappe hoor dat die koning daar by die ingang is, het almal soos gewoonlik voor hom verbygestap wanneer hulle gewen het.Nadat die soldate van die Israeliete na hulle huise toe gevlug het,

9. het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom.