Die Boodskap

2 Samuel 18:1-5 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het die manne wat by hom was, laat aantree. Hy het hulle in groepe ingedeel en leiers aangestel vir groter en kleiner groepe.

2. Dawid het daarna drie generaals aangestel: Joab was die generaal van een afdeling soldate, Joab se broer Abisai was die generaal van die tweede afdeling en Ittai, wat van Gat af gekom het, was die generaal van die derde afdeling. Die koning het vir die manskappe gesê: “Ek gaan self ook saam met julle veg.”

3. “Nee, u gaan nie saam met ons veg nie,” het hulle gesê, “want hulle is net agter ú aan. Hulle sal nie omgee as ons dalk vlug nie; hulle sal ook nie eers omgee as die helfte van ons dood is nie. U is vir hulle belangriker as 10 000 van ons. Daarom is dit beter as u in die stad bly en ons van dáár af help.”

4. “Goed, as julle so dink, sal ek dit doen,” sê die koning.Die koning het toe by die stad se ingang gaan staan en al die groepe van die leër het by hom verbygestap.

5. Die koning het vir Joab en Abisai en Ittai duidelik gesê: “Moet asseblief nie te rof wees met die jongman, met Absalom, nie.”Al die manskappe het gehoor wat die koning vir die generaals oor Absalom gesê het.