Die Boodskap

2 Samuel 16:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Net toe Dawid oor die top van die Olyfberg is, kom hy af op Siba, die man wat vir Mefiboset in die huis werk. Hy het ’n hele span donkies wat opgesaal was, by hom gehad. Op die donkies was 200 brode, 100 pakke rosyntjies, ’n klomp ryp vrugte en ’n groot kruik wyn.

2. “Wat wil jy daarmee maak?” vra die koning hom.“Die donkies is vir die koning se gesin om op te ry en die brood en die vrugte is vir die manne. Die wyn is vir dié wat gedaan raak in die woestyn,” antwoord Siba.

3. “En waar is Saul se kleinseun?” vra die koning.“Nee, hy het in Jerusalem agtergebly,” sê Siba. “Hy dink mos die Israeliete gaan hom vandag weer koning maak soos sy oupa was.”

4. Toe sê die koning vir Siba: “In daardie geval is al Mefiboset se goed nou joune.”“Baie, baie dankie, U Majesteit,” sê Siba, “u is baie goed vir my.”

5. Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom een van Saul se familie uit die dorp uit. Sy naam was Simeï. Hy was Gera se seun. Sommer met die uitkomslag

6. begin hy vir Dawid en sy amptenare vloek en hulle met klippe gooi waar hulle tussen die soldate en sy beste vegters staan.

7. Hy vloek en skree vir Dawid: “Voertsek, jou moordenaar! Jou lae vent!

8. Die Here betaal jou nou terug vir al Saul se mense wat jy laat doodmaak het toe jy die koningskap gesteel het! Die Here het nou vir Absalom koning gemaak en jy’s in die moeilikheid oor jy ’n moordenaar is!”