Die Boodskap

2 Samuel 13:19-25 Die Boodskap (DB)

19. Toe sy buite kom, het sy haar lang rok geskeur en grond op haar kop gegooi. Sy het met haar hande op haar kop daar weggeloop en die hele tyd hard geskree.

20. Toe sy by haar broer Absalom kom, sê hy vir haar: “Daardie broer Amnon van jou het dit gedoen, nè? Toemaar, my ou sus! Moenie daaroor praat nie, hoor! Hy’s darem jou broer. Moenie jou te veel daaroor kwel nie.”Tamar het by haar broer Absalom ingetrek. Sy was ’n gebroke mens.

21. Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, was hy woedend.

22. Absalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar verkrag het, maar hy het nie ’n woord met hom daaroor gepraat nie.

23. Twee jaar later was die skeerders besig om Absalom se skape te skeer by Baäl-Gasor, naby die dorp Efraim. Hy wou al die koning se seuns daarheen nooi

24. en het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “My mense is op die oomblik besig om my skape te skeer. Wil die koning en sy amptenare nie maar vir die fees na my toe oorkom nie?”

25. “Nee, my seun,” sê die koning. “Ons kan nie almal na jou toe gaan nie. Ons sal te veel mense wees.”Absalom het by sy pa aangehou, maar Dawid wou nie saamgaan nie en het vir Absalom gesê hy hoop dit gaan goed met die skeerdery.