Die Boodskap

1 Petrus 2:8-17 Die Boodskap (DB)

8. En:“Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.”Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees.

9. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is.

10. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken.

11. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie.

12. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is.

13. Moenie teen die reëls en wette van julle aardse regeerders in opstand kom nie. Gehoorsaam dit maar, want dan sal die Here nie in die skande gesteek word nie. Dit maak nie saak of die wette uit die hoogste politieke vergaderings kom of

14. van die polisie af wat hier onder ons die kwaaddoeners moet vang en die goeie mense moet beskerm nie.

15. Die Here het ’n plan daarmee as julle elke dag so positief leef. Deur die regte dinge te doen sal julle al die kritiek stilmaak van mense wat lelike dinge oor julle sê. Hulle weet in elk geval nie waarvan hulle praat nie.

16. God het julle vry mense gemaak. Julle moet dit egter nie as verskoning gebruik om te leef net soos julle wil nie, reg of verkeerd. Nee, julle vryheid kan nooit van julle mense maak wat nie in alles na God luister en nie maak soos Hy wil hê nie.

17. Behandel almal met wie julle te doen kry beleefd en gemanierd. Teenoor julle mede-Christene moet julle liefdevol en lojaal wees. Erken en eer God as die groot en magtige Heerser, maar respekteer ook die leier van julle aardse regering.