Die Boodskap

1 Korintiërs 6:13-20 Die Boodskap (DB)

13. Julle weet wat mense sê: “Eers eet jy om te leef en dan leef jy om te eet.” Vir God maak dit nie saak nie, want dit is nie wat belangrik is nie. Nie kos of die maag sal vir ewig hou nie. Vir een ding is ons liggaam nie bedoel nie en dit is om net instrumente vir seks te wees. Ons het ’n liggaam om die Here mee te dien en die Here sorg op sy beurt vir ons liggaam. God sal ons dooie liggaam eendag weer lewendig maak.

14. Hy het gewys dat Hy sterk genoeg is om dit te doen toe Hy die Here weer lewendig gemaak het.

15. Besef julle nie dat julle liggaam vir Jesus soos sy eie is nie? Sal ek dan die liggaam wat vir Jesus soos sy eie is, vat en by allerhande slegte vroue daarmee gaan slaap? Nooit aste nimmer nie.

16. Iemand wat by ’n slegte vrou slaap, word eintlik self soos daardie slegte vrou - ’n mens sou kon sê dat hulle soos een mens word. Hulle sê mos: “As twee saamslaap, word hulle eintlik soos een mens.”

17. Dit is op geestelike gebied ook waar. As ’n mens jouself vir die Here gee, word julle twee ook soos een. Dit gebeur natuurlik nie liggaamlik nie, maar geestelik.

18. Maak dat julle wegkom van verkeerde seksuele dinge af. Bly daarvan weg. Allerhande ander sondes raak nie jou liggaam so direk nie. Maar as jy op seksuele gebied verkeerde dinge begin doen, is jou liggaam direk daarby betrokke. Die verkeerde dinge gebeur nie daar ver nie, maar in en met jou liggaam.

19. Het julle dan vergeet dat julle liggaam die blyplek van die Heilige Gees self is? Die Gees bly mos in julle; God self het die Gees vir julle gegee. Dit beteken dat julle nie julle eie baas is nie en dat julle nie maar met julle liggaam kan doen wat julle wil nie.

20. Die Here het baie duur betaal om julle Syne te maak. God moet dus ook trots kan wees op julle liggaam - daarvoor moet julle sorg deur die manier waarop julle julle gedra.