Die Boodskap

1 Korintiërs 15:44-51 Die Boodskap (DB)

44. Ons sterf as gewone aardse mense, maar ons gaan lewendig word in ’n nuwe geestelike liggaam.Soos daar ’n gewone aardse liggaam is, so is daar ook ’n geestelike liggaam.

45. In die Skrif staan daar dat die eerste mens, Adam, ’n lewende mens geword het. Maar die laaste Adam, dit is Christus, is die Gees wat mense geestelik lewendig maak.

46. Ons word dus eers met ons gewone aardse liggaam gebore. Die geestelike liggaam kry ons eers later.

47. Die eerste mens, Adam, is mos uit die grond van die aarde gemaak; die tweede mens, Christus, het uit die hemel gekom.

48. Die mense op aarde is almal soos Adam, maar die mense wat in die hemel is, is soos Christus.

49. Aanvanklik was ons almal aards soos Adam, maar in die toekoms sal ons lyk soos Christus wat uit die hemel gekom het.

50. My liewe broers en susters, wat ek met ander woorde wil sê, is dit: ons, met ons aardse liggame, kan nie in die nuwe wêreld van God ingaan nie. ’n Liggaam wat doodgaan en vergaan, kan tog nie in die nuwe wêreld van God gaan bly waar alles vir altyd hou nie.

51. Laat ek julle ’n geheim vertel: nie almal sal doodgaan voor die Here kom nie. Dié wat nog in hulle aardse liggame lewe wanneer Hy kom, sal in die plek daarvan ’n nuwe geestelike liggaam kry.