Die Boodskap

1 Konings 1:16-22 Die Boodskap (DB)

16. Batseba het laag voor hom gebuig en Dawid het vir haar gevra: “Wat kan ek vir jou doen?”

17. Batseba sê toe: “U Majesteit, lank gelede het u my in die Naam van die Here u God beloof dat my seun Salomo na u koning sou word.

18. Vandag het Adonia egter koning geword. Niemand het u nog daarvan vertel nie.

19. Hy het baie beeste, skape en vetgemaakte kalwers geoffer en al u seuns genooi. Abjatar die priester, en Joab, die hoof van u leër, was ook daar. Adonia het u seun Salomo egter nie genooi nie.

20. U Majesteit, die hele Israel wag op u. U moet nou sê wie na u koning moet word.

21. As u niks gaan sê nie, sal Adonia vir my en Salomo na u dood soos verraaiers behandel.”

22. Batseba was nog aan die praat toe Natan daar aankom.