Afrikaans 1983

Psalms 85 Afrikaans 1983 (AFR83)

U was goed vir u land

1. Vir die koorleier. Van die Koragiete. 'n Psalm.

2. U was goed vir u land, Here,U het aan die nageslag van Jakob 'n nuwe toekoms gegee;

3. U het u volk sy sonde nie toegereken nie,hom al sy skuld kwytgeskeld. Sela

4. U het u woede laat bedaar,u gloeiende toorn laat afkoel.

5. Ontferm U weer oor ons, o God, ons Verlosser,moet tog nie langer op ons toornig wees nie!

6. Sal U dan altyd vir ons kwaad bly?Sal U dan u toorn van geslag tot geslag laat voortduur?

7. Wil U nie weer die lewe vir ons nuut maaksodat u volk hulle vreugde in U kan vind nie?

8. Laat ons u troue liefde belewe,skenk ons u reddende hulp, Here.

9. Ek wil luister na wat God die Here sê,want sy woord bring vrede vir sy volk,vir dié wat Hom getrou dien.Hulle moet net nie weer afdwaal nie.

10. Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien:Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar.

11. Liefde en trou sal mekaar ontmoet,geregtigheid en vrede sal mekaar omhels;

12. trou sal uit die aarde uit opspruit,geregtigheid sal uit die hemel uit afkom.

13. Die Here sal voorspoed skenken ons land sal sy oes gee.

14. Die geregtigheid sal Hom vooruitgaanen 'n pad maak vir sy koms.