Afrikaans 1983

Psalms 65 Afrikaans 1983 (AFR83)

U laat die mense juig

1. Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. 'n Lied.

2. Aan U, o God, kom 'n lofsang toe in Sion:geloftes moet betaal word

3. aan U wat die gebed verhoor.Na U toe sal alle mense kom

4. om hulle skuld te bely.Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry.

5. Dit gaan goed met die mens vir wie U uitkiesen laat naderkom om in u tempel te bly.Laat ons die goeie dinge in u huis in oorvloed geniet,die goeie dinge in u heilige woning.

6. In u trou antwoord U ons met kragtige dade,o God, ons Verlosser,op wie ook die mense in afgeleë landeen op verre seë vertrou.

7. U is met mag omgewe,U laat deur u krag die berge vas bly staan;

8. U laat die gedruis van die see,die geraas van die golwe,die rumoer van die nasies bedaar,

9. sodat ook die mense in afgeleë landeontsag kry vir die tekens van u mag;in die ooste en in die westelaat U die mense juig.

10. U sorg vir die land en gee oorvloed,U maak dit baie vrugbaar.Die groot riviere is vol water,U laat die koring welig staan.Alles is u werk!

11. U maak die ploegvore vol water en die kluite nat,U laat hulle sag word van die reëns,U laat alles welig groei.

12. U kroon die jaar met u goeie gawes.Waar U ook gaan, is daar oorvloed!

13. Daar is volop weiding in die woestyn;die bulte juig,

14. die velde wemel van die kleinvee,die vlaktes staan vol koring;hulle juig en hulle sing.