Afrikaans 1983

Psalms 62 Afrikaans 1983 (AFR83)

Net by God vind ek rus

1. Vir die koorleier. 'n Belydenis. 'n Psalm van Dawid.

2. Net by God vind ek rus,van Hom kom my redding.

3. Net Hy is my rots en my redding,my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan.

4. Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slingeren my probeer doodmaak,'n man wat reeds is soos 'n muur wat wil omval,'n klipmuur wat omgestoot word?

5. Hulle probeer my uitwerk;hulle skep behae in leuens;met die mond seën hulle,in die hart vervloek hulle. Sela

6. Net by God vind ek rus,want op Hom vertrou ek.

7. Net Hy is my rots en my redding,my veilige vesting, sodat ek stewig staan.

8. God is my redding en my krag.Hy is my rots, my sterkte,God is my toevlug.

9. Vertrou altyd op Hom, my volk,stort julle hart voor Hom uit!God is vir ons 'n toevlug. Sela

10. Mense is verganklik,mense is niks:op 'n skaal wys hulle geen gewig nie,saam is hulle minder as niks.

11. Moenie op geweld vertrou nie;roof sal jou niks in die sak bring nie.As jou rykdom toeneem,moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie.

12. Een ding het ek God hoor sê,nee, twee:dat net God mag het

13. en 'n mens net op U, Here, kan vertrou,en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.