Afrikaans 1983

Numeri 31:8-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

8. Onder die gesneuweldes was die vyf Midianitiese konings Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Die Israeliete het ook vir Bileam seun van Beor doodgemaak.

9. Hulle het die Midianitiese vrouens met hulle kinders gevange geneem, en al die beeste, kleinvee en besittings buitgemaak.

10. Die Israeliete het al die stede in die gebied van die Midianiete en al hulle ander blyplekke verbrand.

11. Daarna het die Israeliete alles wat hulle gebuit en geroof het, mens en dier, gevat

12. en die gevangenes, die roof en die buit na Moses en die priester Eleasar en die volk Israel toe gebring in die kamp in die Moabsvlakte regoor Jerigo aan die Jordaan.

13. Moses en die priester Eleasar en al die leiers van die volk het die leër buite die kamp gaan ontmoet.

14. Moses was kwaad vir die bevelvoerders van die leër, die bevelvoerders oor duisend en oor honderd wat van die veldtog af teruggekom het.

15. Hy het vir hulle gesê: “Julle het al die vrouens in die lewe laat bly,

16. en deur toedoen van Bileam was juis húlle die oorsaak dat die Israeliete by Peor ontrou was aan die Here en daar 'n ramp oor die volk van die Here gekom het!

17. Maak al die seuntjies dood en elke vrou wat al met 'n man gemeenskap gehad het.

18. Maar elke dogter wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie, mag julle laat lewe en vir julle vat.

19. Dié van julle wat iemand doodgemaak het of aan 'n lyk geraak het, moet sewe dae buite die kamp bly. Op die derde en die sewende dag moet julle julleself en julle gevangenes reinig.