Afrikaans 1983

Numeri 31:20-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

20. Julle moet ook al julle klere en alles wat van vel of bokhaar of hout gemaak is, reinig.”

21. Die priester Eleasar het vir die soldate wat gaan oorlog maak het, gesê: “Die voorskrif wat die Here aan Moses geopenbaar het, is:

22. goud, silwer, brons, yster, tin, lood,

23. alles wat nie kan verbrand nie, moet deur julle met vuur gereinig word en daarna met reinigingswater. Alles wat kan verbrand, moet deur julle met reinigingswater gereinig word.

24. Op die sewende dag moet julle julle klere was en sal julle rein wees. Daarna mag julle na die kamp toe terugkom.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

26. “Jy en die priester Eleasar en die familiehoofde van die volk moet al die mense wat gevang is en die diere wat buitgemaak is, tel.

27. Dan moet julle die buit verdeel tussen dié wat by die oorlog betrokke was en gaan veg het, en die res van die volk.

28. Jy moet van die soldate wat gaan veg het, 'n offergawe vir die Here neem, een op vyf honderd uit die mense, beeste, donkies en kleinvee.

29. Die bydrae wat jy uit hulle deel vat, moet jy aan die priester Eleasar gee as 'n offergawe aan die Here.

30. Uit die deel van die res van die Israeliete moet jy een op vyftig vat, uit die mense, beeste, donkies, kleinvee en ander diere, en dit aan die Leviete gee wat die diens by die tabernakel van die Here behartig.”