Afrikaans 1983

Numeri 22:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

5. en hy het boodskappers gestuur om vir Bileam seun van Beor te laat haal. Hy was in Petor aan die Eufraat in die land Ammau.Balak het hom laat weet: “'n Volk wat uit Egipte kom, het hier by my kom intrek. Die aarde is tóé onder hulle.

6. Kom asseblief en vervloek hierdie volk vir my, want hulle is te sterk vir my. Miskien sal ek hulle dan kan verslaan en uit die land verdryf. Ek weet: wie jy seën, is geseën, en wie jy vervloek, is vervloek.”

7. Die leiers van Moab en Midian het die beloning wat aan 'n waarsêer betaal moet word, saamgevat na Bileam toe en Balak se versoek aan hom oorgedra.

8. Bileam sê toe vir hulle: “Bly vannag oor, dan sê ek môre vir julle wat die Here vir my sal sê.”Die amptenare van Moab het toe by Bileam oornag.

9. God het aan Bileam verskyn en gevra: “Wie is die manne hier by jou?”

10. en hy het geantwoord: “Koning Balak van Moab, seun van Sippor, het hulle na my toe gestuur met die boodskap:

11. Hier is 'n volk wat uit Egipte getrek het, en die aarde is tóé onder hulle. Kom asseblief en vervloek hulle vir my. Miskien sal ek dan teen hulle kan veg en hulle verdryf!”

12. Maar God het vir Bileam gesê: “Moenie met hulle saamgaan nie. Jy mag dié volk nie vervloek nie, want hulle is geseën.”

13. Die volgende môre het Bileam vir die amptenare van Balak gesê: “Gaan terug na julle land toe, want die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.”

14. Die amptenare van Moab is toe terug na Balak toe en het vir hom gesê: “Bileam weier om met ons saam te kom.”