Afrikaans 1983

Numeri 22:22-37 Afrikaans 1983 (AFR83)

22. God het kwaad geword toe Bileam gaan, en die Engel van die Here het vir Bileam in die pad voorgestaan om hom te keer. Bileam het op sy donkie gery, en twee van sy amptenare was by hom.

23. Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand, het die donkie uit die pad gedraai en die veld in geloop. Toe Bileam die donkie slaan om hom in die pad terug te bring,

24. gaan staan die Engel van die Here in 'n smal pad tussen die wingerde, met 'n muur aan weerskante.

25. Toe die donkie die Engel van die Here gewaar, skuur die donkie teen die muur langs en druk Bileam se voet daarteen vas. Bileam slaan hom toe weer.

26. Toe gaan die Engel van die Here verder en gaan staan in 'n nou plek waar daar nie kans was om na enige kant toe uit te draai nie.

27. Die donkie het die Engel van die Here gesien en het onder Bileam gaan lê. Bileam het so kwaad geword dat hy die donkie met 'n stok geslaan het.

28. Toe laat die Here die donkie praat, en die donkie sê vir Bileam: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het?”

29. Bileam antwoord toe: “Jy hou my vir die gek. As ek 'n swaard by my gehad het, het ek jou doodgemaak.”

30. Toe sê die donkie vir Bileam: “Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?” en Bileam antwoord: “Nee!”

31. Die Here het Bileam se oë oopgemaak en hy het die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand. Toe buig Bileam voor die Engel.

32. Die Engel van die Here vra hom toe: “Waarom het jy jou donkie nou al drie keer geslaan? Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op 'n gevaarlike pad.

33. Die donkie het My gesien en drie keer vir My uitgedraai. As hy dit nie gedoen het nie, het Ek jou al doodgemaak en hom laat leef.”

34. Bileam sê toe vir die Engel van die Here: “Ek was verkeerd, ek het nie geweet dat U my in die pad voorstaan nie. As U nie wil hê ek moet voortgaan nie, draai ek om.”

35. Toe sê die Engel van die Here vir Bileam: “Gaan saam met die manne, maar jy moet net sê wat Ek vir jou sê.”Bileam is toe saam met Balak se amptenare.

36. Toe Balak hoor dat Bileam aan die kom is, het hy hom tegemoet gegaan by Ar-Moab aan die oewer van die Arnon, op die grens.

37. Balak vra toe vir Bileam: “Ek het jou dringend laat roep, en waarom het jy toe nie na my toe gekom nie? Dink jy ek kan jou nie goed betaal nie?”