Afrikaans 1983

Numeri 22:19-26 Afrikaans 1983 (AFR83)

19. Maar bly julle ook 'n nag oor dat ek kan uitvind of die Here weer met my wil praat.”

20. Daardie nag verskyn God toe aan Bileam en sê vir hom: “Die manne het nou gekom om jou te kom haal. Gaan saam met hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.”

21. Bileam het toe die oggend sy donkie opgesaal en met die amptenare van Moab saamgegaan.

22. God het kwaad geword toe Bileam gaan, en die Engel van die Here het vir Bileam in die pad voorgestaan om hom te keer. Bileam het op sy donkie gery, en twee van sy amptenare was by hom.

23. Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met 'n ontblote swaard in die hand, het die donkie uit die pad gedraai en die veld in geloop. Toe Bileam die donkie slaan om hom in die pad terug te bring,

24. gaan staan die Engel van die Here in 'n smal pad tussen die wingerde, met 'n muur aan weerskante.

25. Toe die donkie die Engel van die Here gewaar, skuur die donkie teen die muur langs en druk Bileam se voet daarteen vas. Bileam slaan hom toe weer.

26. Toe gaan die Engel van die Here verder en gaan staan in 'n nou plek waar daar nie kans was om na enige kant toe uit te draai nie.