Afrikaans 1983

Lukas 8:14-27 Afrikaans 1983 (AFR83)

14. Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie.

15. Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”

16. “Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien.

17. Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.

18. “Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”

19. Die moeder en die broers van Jesus het na Hom toe gekom, maar vanweë die gedrang kon hulle nie tot by Hom kom nie.

20. Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan buite en wil met U praat.”

21. Maar Jesus sê: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.”

22. Op 'n dag het Jesus en sy dissipels in 'n skuit geklim en Hy het vir hulle gesê:

23. “Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.”Hulle vaar toe weg, en terwyl hulle seil, raak Jesus aan die slaap. 'n Hewige stormwind het op die meer losgebars en die skuit het vol water begin word sodat hulle in lewensgevaar was.

24. Hulle gaan toe na Jesus toe en maak Hom wakker met die uitroep: “Meneer, Meneer, ons vergaan!”Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe.

25. Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?”Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”

26. Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê.

27. Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen grafte.