Afrikaans 1983

Lukas 4:26-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

26. Tog is Elia nie na een van hulle toe gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat in die gebied van Sidon.

27. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van die profeet Elisa. Tog is nie een van hulle genees nie, maar wel Naäman, die Siriër.”

28. Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor.

29. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom van die krans af te gooi.

30. Maar Jesus het tussen hulle deur geloop en weggegaan.

31. Daarna het Hy na Kapernaum toe gegaan, 'n dorp in Galilea, en die mense gereeld op die sabbatdag geleer.

32. Hulle was verbaas oor sy leer, want Hy het met gesag gepraat.

33. In die sinagoge was daar 'n man wat in die mag was van 'n bose, onrein gees, en hy het hard geskreeu:

34. “Ha! Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet wie U is: U is die Heilige van God!”

35. Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!”En die bose gees het die man tussen die mense laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom seer te maak.

36. Almal was baie verbaas, en hulle raak aan die praat en vra vir mekaar: “Wat vir 'n woord is dit dat hy met gesag en mag die onrein geeste gebied, en hulle gaan uit?”

37. En berigte oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei.

38. Toe Jesus die sinagoge verlaat, het Hy na die huis van Simon toe gegaan. Die skoonmoeder van Simon het siek gelê met 'n hewige koors, en hulle het Hom gevra om iets vir haar te doen.

39. Hy het by die koppenent van die bed gaan staan en die koors bestraf. Dit het haar verlaat, en sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.

40. Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak.