Afrikaans 1983

Lukas 22:59-71 Afrikaans 1983 (AFR83)

59. Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”

60. Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai.

61. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”

62. En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

63. Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan.

64. Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos 'n profeet! Sê wie het jou geslaan!”

65. En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.

66. Toe dit dag word, het die Raad van die volk — die priesterhoofde en die skrifgeleerdes — vergader en Jesus voor hulle laat bring.

67. Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie;

68. en al sou Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.

69. Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”

70. Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”

71. Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”