Afrikaans 1983

Lukas 22:55-70 Afrikaans 1983 (AFR83)

55. In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.

56. 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”

57. Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”

58. 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”

59. Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”

60. Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai.

61. Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.”

62. En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

63. Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan.

64. Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos 'n profeet! Sê wie het jou geslaan!”

65. En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.

66. Toe dit dag word, het die Raad van die volk — die priesterhoofde en die skrifgeleerdes — vergader en Jesus voor hulle laat bring.

67. Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie;

68. en al sou Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.

69. Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”

70. Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”