Afrikaans 1983

Lukas 22:47-60 Afrikaans 1983 (AFR83)

47. Terwyl Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen.

48. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met 'n soen?”

49. Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”

50. Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af.

51. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!”Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.

52. Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen 'n rower?

53. Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”

54. Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom.

55. In die middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit.

56. 'n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”

57. Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”

58. 'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”

59. Na verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”

60. Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai.