Afrikaans 1983

Lukas 22:15-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

15. Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly.

16. Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”

17. Daarna neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan.

18. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

19. Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

20. Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

21. “Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel.

22. Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!”

23. Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.

24. Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word.

25. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem.

26. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien.

27. Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.

28. “Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het.

29. Net soos my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan julle,

30. sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”

31. “Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif.

32. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

33. Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”

34. Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

35. Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?”“Nee, niks nie!” was hulle antwoord.