Afrikaans 1983

Lukas 19:6-21 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Hy het toe gou afgeklim en Jesus met blydskap ontvang.

7. Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis!”

8. Maar Saggeus het opgestaan en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”

9. Daarop sê Jesus: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham.

10. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

11. Terwyl die mense na Jesus geluister het, het Hy nog 'n gelykenis vertel, aangesien Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het die koninkryk van God sou nou enige oomblik kom.

12. Hy het gesê: “'n Man van adellike afkoms het na 'n ver land toe op reis gegaan om as koning aangestel te word en dan terug te kom.

13. Vooraf het hy tien van sy slawe geroep en aan hulle tien goue muntstukke gegee en gesê: ‘Dryf handel daarmee totdat ek terugkom.’

14. “Sy landgenote het hom egter gehaat en 'n afvaardiging agterna gestuur om te sê: ‘Ons wil nie hierdie man as koning hê nie.’ Maar hy het tog die koningskap ontvang.

15. “Nadat hy teruggekom het, het hy die slawe aan wie hy die geld gegee het, na hom toe laat roep, sodat hy kon verneem wat hulle met die handeldryf verdien het.

16. Die eerste het vorentoe gekom en gesê: ‘Meneer, u muntstuk het tien muntstukke opgelewer.’

17. Daarop antwoord hy: ‘Mooi so, jy is 'n goeie slaaf. Omdat jy in 'n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede.’

18. “Toe kom die tweede slaaf en sê: ‘Meneer, u muntstuk het vyf muntstukke opgelewer.’

19. Aan hierdie een sê hy: ‘En jy kry die bestuur oor vyf stede.’

20. “Nog 'n ander het gekom en gesê: ‘Meneer, hier is u muntstuk. Ek het dit in 'n doek gebêre.

21. Ek was bang vir u, want u is 'n harde man. U eis op wat u nie belê het nie, en oes wat u nie gesaai het nie.’