Afrikaans 1983

Lukas 14:6-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

6. Hulle kon daar niks op antwoord nie.

7. Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis:

8. “As iemand jou na 'n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy.

9. Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem.

10. Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor.’ Dan sal jy in die agting van al die gaste styg.

11. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

12. Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie.

13. Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes.

14. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.”

15. Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.”

16. Toe sê Jesus vir hom: “Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het.

17. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’

18. Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’

19. 'n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.’

20. Nog 'n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’

21. “Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’

22. Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’

23. Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.