Afrikaans 1983

Lukas 10:23-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

23. Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien,

24. want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.”

25. Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26. Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27. Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

28. “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29. Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”