Afrikaans 1983

Hebreërs 10:10-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Omdat God dit so wou, is ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer gebring het, eens en vir altyd.

11. Verder, elke priester staan dag vir dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers, wat tog nooit die sondes kan wegneem nie.

12. Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.

13. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is.

14. Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vry gemaak.

15. Ook die Heilige Gees betuig dit aan ons. Eers sê Hy:

16. “Dit is die verbond wat Ek met hulle na daardie dae sal sluit, sê die Here.Ek sal hulle my wette in die hart gee,in hulle verstand sal Ek dit skrywe.”

17. Dan sê Hy verder:“Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.”

18. Waar die sondes vergewe is, is geen offer daarvoor meer nodig nie.

19. Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom,

20. en dit op 'n weg wat nuut is en na die lewe lei. Hierdie weg het Hy vir ons gebaan deur die voorhangsel heen, dit is deur sy liggaam.

21. En terwyl ons Hom ook as groot priester oor die huis van God het,

22. laat ons tot God nader met 'n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van 'n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.

23. Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.

24. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade.