Afrikaans 1983

Handelinge 14:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

10. Toe roep hy na hom: “Staan regop, op jou voete!”Die man het opgespring en hy kon loop.

11. Toe die mense sien wat Paulus gedoen het, roep hulle in Likaonies uit: “Die gode het soos mense geword en het na ons toe afgekom!”

12. Hulle het vir Barnabas Zeus genoem en vir Paulus Hermes, omdat hy die woordvoerder was.

13. Die priester van die Zeustempel, net buitekant die stad, het bulle en blomkranse na die stadspoort toe gevat, en hy wou saam met die mense offers aan die apostels gaan bring.

14. Toe die apostels, Barnabas en Paulus, daarvan hoor, het hulle hulle klere geskeur en tussen die mense ingespring en geskreeu:

15. “Mense, wat vang julle nou aan? Ons is maar net sulke mense soos julle. Ons bring vir julle die goeie boodskap dat julle hierdie sinlose gode moet laat staan en julle tot die lewende God bekeer. Dit is Hy wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het.

16. Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan,

17. maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.”

18. Maar selfs met hierdie woorde kon die apostels nouliks voorkom dat die mense aan hulle offers bring.

19. Toe het daar Jode van Antiogië en Ikonium af gekom en die mense na hulle kant toe oorgehaal. Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.