Afrikaans 1933-1953

Hebreërs 7:3-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.

4. Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ’n tiende van die buit gegee het.

5. Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ’n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het;

6. maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.

7. Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.

8. En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.

9. En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee;

10. want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.

11. As daar dan volkomenheid deur die Levitiese priesterskap was — want met die oog daarop het die volk die wet ontvang — waarom was dit nog nodig dat ’n ander priester moes opstaan volgens die orde van Melgisédek en dat hy dit nie volgens die orde van Aäron genoem word nie?

12. Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet;

13. omdat Hy met die oog op wie hierdie dinge gesê word, aan ’n ander stam behoort het waaruit niemand die altaar bedien het nie.

14. Want dit is volkome duidelik dat onse Here uit Juda voortgespruit het, en met betrekking tot hierdie stam het Moses niks gesê van die priesterskap nie.

15. En nog baie duideliker is dit as daar ’n ander priester opstaan na die ewebeeld van Melgisédek,

16. een wat dit geword het nie kragtens die wet van ’n vleeslike gebod nie, maar uit die krag van die onvernietigbare lewe.