Afrikaans 1933-1953

Hebreërs 7:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WANT hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het;

2. aan wie Abraham ook ’n tiende deel van alles gegee het — hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede;

3. sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.

4. Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ’n tiende van die buit gegee het.

5. Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ’n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het;

6. maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.

7. Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.

8. En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.

9. En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee;

10. want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.