Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 36:8-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Die verdere geskiedenis van Jójakim en sy gruwels wat hy bedryf het, en wat verder by hom gevind is, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Israel en Juda; en sy seun Jójagin het in sy plek koning geword.

9. Agttien jaar was Jójagin oud toe hy koning geword het, en drie maande en tien dae het hy in Jerusalem geregeer; en hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.

10. By die wisseling van die jaar het koning Nebukadnésar gestuur en hom na Babel laat bring, saam met die kosbare voorwerpe van die huis van die Here, en sy broer Sedekía koning oor Juda en Jerusalem gemaak.

11. EEN-EN-TWINTIG jaar was Sedekía oud toe hy koning geword het, en elf jaar het hy in Jerusalem geregeer.

12. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here sy God; hy het hom nie verootmoedig nie voor Jeremia, die profeet, wat gespreek het uit die mond van die Here.

13. En hy het ook gerebelleer teen koning Nebukadnésar wat hom by God laat sweer het; maar hy was hardnekkig en het sy hart verhard, sodat hy hom nie tot die Here, die God van Israel, bekeer het nie.