Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 34:10-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Hulle het dit naamlik oorhandig aan die uitvoerders van die werk wat aangestel was oor die huis van die Here, en dié het dit gegee aan die arbeiders wat gewerk het aan die huis van die Here, om die huis reg te maak en te herstel.

11. En hulle het dit gegee aan die skrynwerkers en die bouers, om gekapte klippe en hout vir die kappe aan te koop en om die geboue wat die konings van Juda verniel het, van balke te voorsien.

12. En die manne het getrou gearbei aan die werk; en oor hulle was aangestel: Jahat en Obádja, Leviete uit die kinders van Merári, en Sagaría en Mesúllam uit die kinders van die Kehatiete, om leiding te gee; en die Leviete, elkeen wat verstand gehad het van musiekinstrumente,

13. was én oor die lasdraers én het al die werksmense bestuur by elke soort arbeid; uit die Leviete was ook skrywers en opsigters en poortwagters.

14. En toe hulle die geld uithaal wat in die huis van die Here gebring was, het die priester Hilkía die wetboek van die Here gevind wat deur die diens van Moses gegee is.

15. Daarop het Hilkía aan die skrywer Safan gesê: Ek het die wetboek in die huis van die Here gevind! Toe gee Hilkía die boek aan Safan,

16. en Safan het die boek na die koning gebring en aan die koning verder verslag gegee en gesê: Alles wat in die hande van u dienaars gegee is, doen hulle:

17. hulle het die geld wat daar in die huis van die Here was, uitgeskud en oorhandig aan die opsigters en die uitvoerders van die werk.