Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 26:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE het die hele volk van Juda Ussía geneem, wat toe sestien jaar oud was, en hom koning gemaak in die plek van sy vader Amásia.

2. Hy het Elot gebou en weer aan Juda teruggebring nadat die koning met sy vaders ontslaap het.

3. Sestien jaar was Ussía oud toe hy koning geword het, en hy het twee-en-vyftig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jególja, van Jerusalem.

4. En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Amásia gedoen het.

5. En hy het God gedurig gesoek in die dae van Sagaría, wat onderrig gegee het in die vrees van God. En in die dae dat hy die Here gesoek het, het God hom voorspoedig gemaak.

6. En hy het uitgetrek en teen die Filistyne geveg en die muur van Gat en die muur van Jabne en die muur van Asdod afgebreek, en stede gebou by Asdod en onder die Filistyne.

7. En God het hom gehelp teen die Filistyne en teen die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete.

8. Ook die Ammoniete het aan Ussía belasting betaal; en sy roem is verbrei tot by die ingang na Egipte, want hy was uitermate magtig.

9. Verder het Ussía torings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort en by die Dalpoort en by die Winkelhaak, en hy het hulle versterk.

10. Hy het ook in die woestyn torings gebou en baie putte uitgekap; want hy het baie vee gehad, in die Laeveld sowel as in die Gelykveld, landbouers en wynboere op die berge en in die tuingronde, want hy was ’n liefhebber van die landbou.

11. Verder het Ussía ’n leër gehad wat oorlog kon voer, wat in afdelings op kommando moes uittrek volgens die getal van hulle monstering deur Jeï-el, die skrywer, en Maäséja, die opsigter, onder leiding van Hanánja, een van die owerstes van die koning.

12. Die hele getal van die familiehoofde, van die dapper helde, was tweeduisend-seshonderd.