Afrikaans 1933-1953

2 Kronieke 2:10-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. En kyk, ek gee as voedsel aan die houtkappers wat die bome kap, aan u dienaars, twintigduisend kor koring en twintigduisend kor gars en twintigduisend bat wyn en twintigduisend bat olie.

11. En Huram, die koning van Tirus, het in ’n brief gesê wat hy aan Salomo gestuur het: Omdat die Here sy volk liefhet, het Hy u as koning oor hulle aangestel.

12. Verder het Huram gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, wat die hemel en die aarde gemaak het, wat aan koning Dawid ’n wyse seun gegee het, begaafd met insig en verstand, om ’n huis vir die Here en ’n huis vir sy koninkryk te bou.

13. Ek stuur dan nou ’n kunstenaar, begaafd met verstand, naamlik Huram Abi,

14. die seun van ’n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader ’n man van Tirus is, wat verstaan om goud en silwer, koper, yster, klippe en hout, purperrooi, pers stowwe en fyn linne en bloedrooi stowwe te bewerk; en om allerhande figure uit te sny en om enige kunstige plan uit te dink wat aan hom opgedra word, saam met u kunstenaars en die kunstenaars van my heer, u vader Dawid.

15. Laat my heer dan nou die koring en die gars, die olie en die wyn wat hy gesê het, aan sy dienaars stuur.

16. En óns sal bome uit die Líbanon kap net soveel as u nodig het, en ons sal dit vir u as vlotte oor die see na Jafo bring; dan kan ú dit na Jerusalem laat vervoer.

17. En Salomo het al die uitlanders getel wat in die land van Israel was, volgens die telling wat sy vader Dawid van hulle gehou het, en dit het geblyk dat daar honderd-drie-en-vyftigduisend-seshonderd was.

18. En sewentigduisend van hulle het hy lasdraers gemaak en tagtigduisend klipkappers op die gebergte en drieduisend-seshonderd opsigters om die mense te laat werk.