Afrikaans 1933-1953

2 Konings 17:18-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. So het die Here dan baie toornig op Israel geword, sodat Hy hulle van sy aangesig verwyder het; niks het oorgebly nie as net die stam van Juda alleen.

19. Selfs Juda het die gebooie van die Here hulle God nie gehou nie, maar gewandel in die insettinge van Israel wat hulle gemaak het.

20. Daarom het die Here die hele geslag van Israel verwerp en hulle verneder en hulle in die hand van rowers oorgegee totdat Hy hulle van sy aangesig weggewerp het.

21. Want Hy het Israel van die huis van Dawid afgeskeur, en hulle het Jeróbeam, die seun van Nebat, koning gemaak; en Jeróbeam het Israel agter die Here weggetrek en hulle ’n groot sonde laat doen.

22. En die kinders van Israel het gewandel in al die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het, hulle het daar nie van afgewyk nie;

23. totdat die Here Israel van sy aangesig verwyder het soos Hy gespreek het deur al sy diensknegte, die profete; en Israel is in ballingskap uit sy land weggevoer na Assirië, tot vandag toe.

24. EN die koning van Assirië het uit Babel en uit Kuta en uit Awa en uit Hamat en Sefarváim mense ingevoer en laat woon in die stede van Samaría, in die plek van die kinders van Israel: hulle het Samaría in besit geneem en in sy stede gaan woon.

25. En in die begin van hulle vestiging daar het hulle die Here nie gevrees nie. Toe stuur die Here leeus onder hulle, en dié het onder hulle sommige gedood.

26. Daarna het hulle aan die koning van Assirië gesê: Die nasies wat u weggevoer en in die stede van Samaría laat woon het, ken nie die verpligting teenoor die God van die land nie; daarom het Hy leeus onder hulle gestuur, en kyk, dié maak hulle dood, omdat hulle die verpligting teenoor die God van die land nie ken nie.