Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 9:6-21 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond, maak klei van die spoeg en smeer die klei aan die oë van die blinde man

7. en Hy sê vir hom: “Gaan was jou in die doopbad van Shiloag.” Hy het gegaan, hom gewas en siende teruggekom.

8. Toe het die bure en die wat vroeër gesien het dat hy blind was, gesê: “Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?”

9. Sommige sê: “Dit is hy;” ander weer: “Hy lyk na hom;” hyself het gesê: “Dit is ek.”

10. Hulle vra vir hom: “Hoe is jou oë oopgemaak?”

11. Hy antwoord en sê vir hulle: “’n Man met die naam Yeshua, het klei gemaak, op my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan was jou in die waters van Shiloag.’ Ek het gegaan, my gewas en ek sien.”

12. Hulle vra vir hom: “Waar is Hy?” Hy sê: “Ek weet nie.”

13. Hulle neem hom, die man wat vroeër blind was, na die Fariseërs.

14. Dit was Shabbat toe Yeshua die klei gemaak en sy oë oopgemaak het.

15. Die Fariseërs vra hom weer: “Hoe het sig na jou toe gekom?” Hy antwoord hulle: “Hy het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek sien.”

16. Sommige van die Fariseërs sê: “Hierdie man kom nie van God nie omdat Hy die Shabbat nie hou nie;” ander sê: “Hoe kan ’n sondige mens sulke wondertekens doen?” Daar was verdeeldheid onder hulle.

17. Hulle het weer met die blinde man gepraat: “Wat sê jy van Hom, wat jou oë oopgemaak het?” Hy antwoord: “Ek sê Hy is ’n profeet.”

18. Die Jode het nie geglo dat hy blind was en siende geword het nie totdat hulle die ouers, van hom wat kon sien, geroep het.

19. Hulle vra vir hulle: “As dit julle seun is, van wie julle gesê het dat hy blind gebore is, hoe sien hy dan nou?”

20. Sy ouers antwoord en sê: “Ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is,

21. maar hoe hy nou sien, weet ons nie; of wie sy oë oopgemaak het, weet ons nie. Hy is self volwasse, vra hom; hy sal vir homself praat.”