Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 9:26-39 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

26. Weer vra hulle vir hom: “Wat het Hy vir jou gedoen? Hoe het Hy jou oë oopgemaak?”

27. Hy antwoord hulle: “Ek het julle vertel en julle het nie geluister nie. Waarom wil julle dit weer hoor? Wil julle ook Sy studentevolgelinge word?”

28. Hulle het hom beledig en vir hom gesê: “Jy is Sy studentevolgeling; ons is studentevolgelinge van Moshe.

29. Ons weet dat God met Moshe gepraat het, maar ons weet nie van waar Hy is nie.”

30. Die man antwoord en sê: “Hierin is dit vreemd dat julle nie weet van waar Hy is nie en Hy het my oë oopgemaak.

31. Ons weet dat God nie na die stem van ’n sondaar luister en doen nie, maar Hy luister en doen vir iemand wat God respekvol vrees, aanbid en Sy wil doen.

32. Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van ’n blindgebore mens oopgemaak het nie.

33. As Hy nie van God was nie, sou Hy dit nie kon doen nie.”

34. Hulle antwoord en sê vir hom: “Jy is volledig in sonde gebore en leer jý ons?” Hulle het hom uitgeban.

35. Yeshua het gehoor dat hulle hom uitgegooi het en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Vertrou jy in die Seun van God?”

36. Hy wat genees is, antwoord en sê: “Wie is Hy, my Meester, dat ek in Hom kan vertrou?”

37. Yeshua sê vir hom: “Jy het Hom gesien en Hy wat met jou praat, dit is Hy.”

38. Hy sê: “Ek vertrou, my Meester” en hy het voor Hom neergeval in aanbidding.

39. Yeshua sê: “Dit is om hierdie wêreld te oordeel dat Ek gekom het sodat die wat nie sien nie, mag sien en die wat sien, blind mag wees.”