Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 9:10-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Hulle vra vir hom: “Hoe is jou oë oopgemaak?”

11. Hy antwoord en sê vir hulle: “’n Man met die naam Yeshua, het klei gemaak, op my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan was jou in die waters van Shiloag.’ Ek het gegaan, my gewas en ek sien.”

12. Hulle vra vir hom: “Waar is Hy?” Hy sê: “Ek weet nie.”

13. Hulle neem hom, die man wat vroeër blind was, na die Fariseërs.

14. Dit was Shabbat toe Yeshua die klei gemaak en sy oë oopgemaak het.

15. Die Fariseërs vra hom weer: “Hoe het sig na jou toe gekom?” Hy antwoord hulle: “Hy het klei op my oë gesit, ek het my gewas en ek sien.”

16. Sommige van die Fariseërs sê: “Hierdie man kom nie van God nie omdat Hy die Shabbat nie hou nie;” ander sê: “Hoe kan ’n sondige mens sulke wondertekens doen?” Daar was verdeeldheid onder hulle.

17. Hulle het weer met die blinde man gepraat: “Wat sê jy van Hom, wat jou oë oopgemaak het?” Hy antwoord: “Ek sê Hy is ’n profeet.”

18. Die Jode het nie geglo dat hy blind was en siende geword het nie totdat hulle die ouers, van hom wat kon sien, geroep het.