Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 9:1-13 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Terwyl Hy verbygaan, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind is.

2. Sy studentevolgelinge vra vir Hom en sê: “Leermeester, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?”

3. Yeshua antwoord: “Nie hy of sy ouers het gesondig nie, maar sodat dit wat God doen, in hom openbaar kan word.

4. Vir My is dit gepas om die werk te doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer ’n mens nie kan werk nie.

5. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die Lig van die wêreld.”

6. Nadat Hy dit gesê het, spoeg Hy op die grond, maak klei van die spoeg en smeer die klei aan die oë van die blinde man

7. en Hy sê vir hom: “Gaan was jou in die doopbad van Shiloag.” Hy het gegaan, hom gewas en siende teruggekom.

8. Toe het die bure en die wat vroeër gesien het dat hy blind was, gesê: “Is hy nie die een wat gesit en bedel het nie?”

9. Sommige sê: “Dit is hy;” ander weer: “Hy lyk na hom;” hyself het gesê: “Dit is ek.”

10. Hulle vra vir hom: “Hoe is jou oë oopgemaak?”

11. Hy antwoord en sê vir hulle: “’n Man met die naam Yeshua, het klei gemaak, op my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan was jou in die waters van Shiloag.’ Ek het gegaan, my gewas en ek sien.”

12. Hulle vra vir hom: “Waar is Hy?” Hy sê: “Ek weet nie.”

13. Hulle neem hom, die man wat vroeër blind was, na die Fariseërs.