Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 18:6-20 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

6. Toe Yeshua vir hulle sê: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees,” het hulle agteruit beweeg en op die grond neergeval.

7. Yeshua vra hulle toe weer: “Wie soek julle?” Hulle sê: “Yeshua, van Natzeret.”

8. Yeshua sê vir hulle: “Ek het vir julle gesê אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees. As julle My dan soek, laat hierdie ander weggaan”

9. sodat die woord vervul sou word wat Hy gesê het: “Uit die wat U My gegee het, het Ek nie een verloor nie.”

10. Shim’on Kefa het ’n swaard gehad, dit uitgetrek en die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy regteroor afgekap. Die naam van die slaaf was Melekh (Ar. Malka).

11. Hierop sê Yeshua vir Kefa: “Steek jou swaard in die skede. Sal Ek dan nie die beker, wat die Vader My gegee het, drink nie?”

12. Toe het die afdeling soldate, hulle bevelvoerder en die tempelwagte van die Jode Yeshua gegryp, Hom vasgebind

13. en Hom weggelei, eers na Hanan, want Hy was die skoonvader van Kayafa, wat daardie jaar hoofpriester was.

14. Dit was Kayafa wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man in die plek van die volk doodgemaak word.

15. Shim’on Kefa en ’n ander studentevolgeling het Yeshua gevolg. Die ander studentevolgeling was bekend by die hoofpriester en het saam met Yeshua ingegaan in die binneplaas van die hoofpriester,

16. maar Shim’on het buitekant naby die deur bly staan. Die ander studentevolgeling, wat bekend was met die hoofpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Kefa ingebring.

17. Toe vra die slavin, die deurwagster, vir Kefa: “Is jy nie ook een van die studentevolgelinge van hierdie man nie?” Hy sê: “Ek is nie.”

18. Die slavinne en die tempelwagte het by ’n vuur gestaan wat hulle gemaak het, want dit was koud en hulle het hulle warm gemaak. Kefa het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19. Die hoofpriester het vir Yeshua ondervra oor Sy studentevolgelinge en oor Sy leer.

20. Yeshua antwoord hom: “Ek het openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die bymekaarkomplekke geleer en in die tempel waar die Jode altyd bymekaarkom en in die geheim het Ek niks gesê nie.