Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 18:18-25 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. Die slavinne en die tempelwagte het by ’n vuur gestaan wat hulle gemaak het, want dit was koud en hulle het hulle warm gemaak. Kefa het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19. Die hoofpriester het vir Yeshua ondervra oor Sy studentevolgelinge en oor Sy leer.

20. Yeshua antwoord hom: “Ek het openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die bymekaarkomplekke geleer en in die tempel waar die Jode altyd bymekaarkom en in die geheim het Ek niks gesê nie.

21. Hoekom vra u My? Vra vir hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Let op, hulle weet alles wat Ek gesê het.”

22. Toe Hy dit sê, het een van die wagte wat daar staan, Yeshua op die wang geklap en gesê: “Antwoord U die hoofpriester so?”

23. Yeshua antwoord hom: “As Ek boos gepraat het, getuig wat boos was, maar as Ek reg gepraat het, waarom slaan jy My?”

24. Hierna het Hanan Hom, steeds vasgebind, na Kayafa, die hoofpriester, gestuur.

25. Shim’on Kefa het gestaan en hom warm gemaak en hulle vra vir hom: “Is jy nie ook een van Sy studentevolgelinge nie?” Hy ontken dit toe en sê: “Ek is nie.”