Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 18:12-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

12. Toe het die afdeling soldate, hulle bevelvoerder en die tempelwagte van die Jode Yeshua gegryp, Hom vasgebind

13. en Hom weggelei, eers na Hanan, want Hy was die skoonvader van Kayafa, wat daardie jaar hoofpriester was.

14. Dit was Kayafa wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man in die plek van die volk doodgemaak word.

15. Shim’on Kefa en ’n ander studentevolgeling het Yeshua gevolg. Die ander studentevolgeling was bekend by die hoofpriester en het saam met Yeshua ingegaan in die binneplaas van die hoofpriester,

16. maar Shim’on het buitekant naby die deur bly staan. Die ander studentevolgeling, wat bekend was met die hoofpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Kefa ingebring.

17. Toe vra die slavin, die deurwagster, vir Kefa: “Is jy nie ook een van die studentevolgelinge van hierdie man nie?” Hy sê: “Ek is nie.”

18. Die slavinne en die tempelwagte het by ’n vuur gestaan wat hulle gemaak het, want dit was koud en hulle het hulle warm gemaak. Kefa het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19. Die hoofpriester het vir Yeshua ondervra oor Sy studentevolgelinge en oor Sy leer.

20. Yeshua antwoord hom: “Ek het openlik met die mense gepraat. Ek het altyd in die bymekaarkomplekke geleer en in die tempel waar die Jode altyd bymekaarkom en in die geheim het Ek niks gesê nie.

21. Hoekom vra u My? Vra vir hulle wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het. Let op, hulle weet alles wat Ek gesê het.”

22. Toe Hy dit sê, het een van die wagte wat daar staan, Yeshua op die wang geklap en gesê: “Antwoord U die hoofpriester so?”

23. Yeshua antwoord hom: “As Ek boos gepraat het, getuig wat boos was, maar as Ek reg gepraat het, waarom slaan jy My?”

24. Hierna het Hanan Hom, steeds vasgebind, na Kayafa, die hoofpriester, gestuur.

25. Shim’on Kefa het gestaan en hom warm gemaak en hulle vra vir hom: “Is jy nie ook een van Sy studentevolgelinge nie?” Hy ontken dit toe en sê: “Ek is nie.”

26. Een van die hoofpriester se slawe, wat familie was van die man wie se oor Kefa afgekap het, vra: “Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?”