Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 17:17-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

17. Vader, sonder hulle af in U waarheid, want U boodskap is die waarheid.

18. Net soos U My in die wêreld ingestuur het, net so het Ek hulle ook in die wêreld ingestuur

19. en Ek sonder Myself af vir hulle sodat hulle ook in waarheid afgesonderd kan wees.

20. Ek bid egter nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle boodskap in My sal vertrou

21. sodat hulle almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U is en dat hulle ook in Ons een mag wees.

22. Ek het aan hulle die Gemanifesteerde Teenwoordigheid gegee wat U My gegee het sodat hulle een kan wees, net soos Ons Een is sodat die wêreld kan vertrou dat U My gestuur het;

23. Ek in hulle en U in My sodat hulle volledig een kan wees en sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.

24. Vader, Ek wil dat hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees waar Ek is sodat hulle My Gemanifesteerde Teenwoordigheid kan sien, wat U My gegee het omdat U My liefgehad het, van voor die vorming van die wêreld af.

25. My Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken en hulle hier het verstaan dat U My gestuur het.

26. Ek het U Outoriteit en Karakter aan hulle openbaar en sal voortgaan om dit te openbaar sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, tussen hulle kan wees en Ek in hulle.