Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 13:5-11 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

5. Hy vat water in ’n wasskottel en begin om die voete van die studentevolgelinge te was en af te droog met die handdoek wat Hy omgehad het.

6. Toe Hy by Shim’on Kefa kom, vra Shim’on vir Hom: “Gaan my Meester my voete vir my was?”

7. Yeshua antwoord en sê vir hom: “Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar jy sal dit later verstaan.”

8. Shim’on Kefa sê vir Hom: “U sal my voete in der ewigheid nie was nie!” Yeshua antwoord hom: “As Ek jou nie was nie, is daar geen deel vir jou by My nie.”

9. Shim’on Kefa sê vir Hom: “My Meester, daarom nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.”Eks 30:20,21

10. Yeshua sê vir hom: “Hy wat gewas is, het niks anders nodig as om sy voete te was nie, want hy is reeds volkome skoon en julle is heeltemal skoon, maar nie almal nie,”

11. want Yeshua het geweet wie Hom sou oorgee; daarom het Hy gesê: ‘Julle is nie almal skoon nie.’