Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Yoganan 10:31-40 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

31. Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig.

32. Yeshua antwoord hulle: “Ek het vir julle baie, uitstekende dade van die Teenwoordigheid van My Vader af gewys. Oor watter een van dié dade stenig julle My?”

33. Die Jode antwoord Hom en sê: “Dit is nie oor ’n goeie daad dat ons U stenig nie, maar oor kwaadpraat van God omdat U wat ’n mens is, Uself God maak.”Ps 82:1-8

34. Yeshua antwoord hulle: “Is daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê, julle is gode,’ nie?

35. As dit húlle elohim (god) noem tot wie die Woord van Elohim (God) gekom het en die Skrif nie gebreek kan word nie,

36. sê julle vir Hom wat die Vader afgesonder en in die wêreld ingestuur het: ‘U praat kwaad teen God,’ omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van Elohim (God)’?

37. As Ek nie die dade van My Vader doen nie, moet julle My nie vertrou nie,

38. maar as Ek dit doen, al vertrou julle My nie, vertrou die dade sodat julle kan weet en vertrou dat die Vader in My is en Ek in Hom.”

39. Hulle het weer probeer om Hom te gryp en Hy het uit hulle hand uit weggekom.

40. Hy het weer na die anderkant van die Yarden gegaan na die plek waar Yoganan eers gedoop het en Hy het daar gebly.