Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Luka 24:1-19 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Vroeg in die oggend, op die eerste dag van die week terwyl dit nog donker was, het hulle en ander vrouens saam met hulle, die speserye gebring wat deur hulle voorberei is en by die graf gekom

2. en gevind dat die steen voor die graf weggerol is.

3. Hulle het ingegaan en nie die liggaam van Yeshua gekry nie.

4. Terwyl hulle gewonder het hieroor, let op, staan daar twee manne oor hulle en hulle klere was glansblink.

5. Hulle het baie bang geword en met hulle gesigte na die aarde gebuig. Die manne sê vir hulle: “Waarom soek julle Die Lewe tussen die dooies?

6. Hy is nie hier nie; Hy het opgestaan. Onthou wat Hy vir julle vertel het toe Hy nog in die Galil was:

7. Hy het gesê: ‘Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag sal Hy opstaan’.”

8. Die vrouens het Sy woorde onthou.

9. Hulle gaan toe terug van die graf af en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander.

10. Dit was Miryam van Migdala, Yoganah en Miryam, die moeder van Ya’akov en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die afgevaardigdes vertel het.

11. Hulle woorde was vir hulle soos ydel praatjies en hulle het hulle nie geglo nie,

12. maar Shim’on het opgestaan en na die graf toe gehardloop en toe hy kyk, sien hy die doeke alleen lê en hy het weggegaan, wonderend in sy gees oor wat gebeur het.

13. Let op, twee van hulle was daardie dag op pad na ’n dorp wat sewe en ’n half myl (12 km) van Yerushalayim af is, met die naam van Amma’us.

14. Hulle het met mekaar gepraat oor al hierdie dinge wat gebeur het

15. en terwyl hulle praat en dit bespreek, ontmoet Yeshua hulle en loop saam met hulle,

16. maar hulle oë is toegemaak sodat hulle Hom nie kon herken nie.

17. Hy sê vir hulle: “Wat is hierdie sake waaroor julle loop en praat met mekaar en waaroor julle so treurig is?”

18. Een van hulle met die naam van Kleopas antwoord en sê vir Hom: “U is inderdaad alleen ’n vreemdeling in Yerushalayim dat U nie van die dinge weet wat in hierdie dae daar gebeur het nie.”

19. Hy sê vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Aangaande Yeshua, van Natzeret, wat ’n profeet was, kragtig in daad en boodskap voor God en voor die hele nasie.