Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Hebreërs 2:9-18 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

9. maar ons sien Hom, Yeshua, wat vir die lyding van Sy dood, ’n bietjie laer as die engele was. Lof, eer en waarde word op Sy hoof geplaas, want deur die onverdiende guns van God het Hy in die plek van elkeen die dood gesmaak,Yes 53:11

10. want dit was vir Hom, ter wille van Wie alle dinge en deur Wie alle dinge is, gepas om baie seuns in die lof en eer te bring sodat die Prins van hulle lewe, deur lyding, Homself volmaak sou maak,

11. want Hy wat afsonder, sowel as hulle wat afgesonder word, is almal vanuit Een, wat die rede is hoekom Hy Hom nie skaam om hulle Sy broers te noem nie,Ps 22:23

12. wanneer Hy sê: “Ek sal U Karakter en Outoriteit (Naam) aan My broers verkondig en in die gemeente sal Ek U lof besing.”Yes 8:17,18

13. Weer: “Ek sal op Hom vertrou.” Weer: “Let op, Ek en die kinders wat God vir My gegee het.”

14. Aangesien die kinders daarom deelgenote is aan vlees en bloed, het Hy aan dieselfde ’n deelgenoot geword sodat Hy deur die dood, die een tot niet kon maak wat outoriteit oor die dood gehad het, wat die teëstander is

15. en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood in slawerny gelewe het,

16. want dood het nie outoriteit oor engele ontvang nie, maar oor die saad van Avraham het dit outorteit ontvang.Yes 53:12

17. As gevolg hiervan was dit reg dat Hy in alles aan Sy broers gelyk moes word sodat Hy aktief kan omgee en ’n Hoofpriester wees, vertrouenswaardig aan die dinge van God, om toedekking te maak vir die sondes van mense,

18. want hierin, dat Hy self gely het en versoek is, kan Hy dié help wat versoek word.