Die Pad van Waarheid tot die Lewe

Galasiërs 3:20-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

20. ’n Tussenganger verteenwoordig nie een alleen nie, maar God is Een.

21. Is die wet wat ons ontvang het teenoorgesteld aan die belofte van God? ’n Verwerplike gedagte, want as daar ’n wet gegee is, wat in staat was om lewe te gee, dan sou die onpartydige opregtheid waarlik vanaf die wet gekom het.

22. Die Skrifte het alles onder die sonde ingesluit sodat die belofte in die vertroue van Yeshua, Die Gesalfde Een, aan die wat vertrou, gegee kon word,

23. maar voordat die vertroue gekom het, is ons begelei deur die wet terwyl ons afgesny was van die vertroue wat op die punt was om openbaar te word.

24. Die geskrewe wet was dus vir ons ’n gids na Die Gesalfde Een toe sodat ons onskuldig verklaar kan word deur vertroue,

25. maar sedert die vertroue gekom het, is ons nie onder ’n gids nie,

26. want julle is almal kinders van God deur die vertroue in Yeshua, Die Gesalfde Een,

27. want julle almal wat in Die Gesalfde Een gedoop is, het Die Gesalfde Een aangetrek.

28. Daar is nie Jood of Arameër nie, daar is nie slaaf of vryman nie, daar is nie man of vrou nie, maar julle is almal een in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua.

29. As julle aan Die Gesalfde Een behoort, is julle die saad van Avraham en volgens die belofte, erfgename.